“If we find ourselves with a desire that nothing in this world can satisfy, the most probable explanation is that we were made for another world.”
― C.S. Lewis
14 Augustus 2026
Vanoggend begin ek amptelik weer werk.
Jaar 3 se begin.
Die eerste 2-jaar kontrak met dankbaarheid suksesvol volbring. Die paar dae wat ek te vroeg ingekom het was vir myself, 'speel' in die klas, naaimasjiene uitsit, voete vind. Persoonlike her-orientering. Die deelteken op my laptop werk nie - Engels en Arabies benodig nie sulke goed nie. Dit irriteer my.
Dis heerlik om al die klas-assistente en grondpersoneel weer te sien. Mense wat amper niks het nie, behalwe JOY. In oorvloed. Hulle werk hulle gatte af om die skool skoner en netjieser te kry as wat dit reeds is. Ek leer by hulle.
Die voorportaal sit vol ouers wat pophuise vol skoolfonds kom aflaai om 'admission' te verseker. Op hierdie stadium kry ek hulle nog jammer, tot 2 weke die kwartaal in - dan onthou ek weer hoekom hulle na 6 weke met hulle kinders by die huis bereid was om die hele jaar se skoolfonds op een slag te betaal.
Skoolfonds is wreed. Afhangende van die jaar (graad) en vakkeuse, wissel dit tussen 30 en 45 DUISEND dirham per akademiese jaar (vermenigvuldig rofweg met 5 vir randwaarde) in 'secondary'. Met ander woorde, meeste families benader akademie BAIE ernstig. Maar 'n kind bly 'n kind...
Dis lekker om die 'base' ook te sien. My taak-gedrewe DNA klap hande, maar my kreatiewe siel skop nog tee. Weer die deelteken...
Ek het vanoggend amper heelpad sonder die GPS skooltoe gery - die nuwe woonstel is soveel nader aan die skool, maar sonder enige bakens en die huise wat amper almal dieselfde lyk moet ek kophou en strate en sirkels tel. Gelukkig hoef ek nie meer te konsentreer op links sit en regs ry nie. Ek vergeet net soms na 'n vakansie in SA my flikkerlig is hier aan die linkerkant. Selfs parallel parkering aan hierdie 'verkeerde' kant van die pad is al makliker regs-om.
Met die uitstap by die huis moes ek vanoggend my laslappie kussingkie afneem - onthou-blokkies. Stukkies huis. Stukkies joy. Die 'min' wat 'baie' is. Die rugkant is 'n ou hemp van Bruce. Sterk.
Soos die 'missing' deelteken is alles hier in die UAE ook nie perfek nie. Maar mens werk om dit. Tot jy dit wat die belangrikste is onder die knie kry. Dan maak jy tyd en kry Krag om onbenullighede soos twee kolletjies te bemeester. En tel jou seeninge.