17 July 2026
Ek prosesseer met woorde. Na gister is diepe verwerking nodig. Soos 'n deep-tissue sport massage- dis pynlik maar nodig.
Vanoggend word ek net voor 4 wakker. Vir wat weet ek nie. Dis onnodig. Nou vertel ek maar die storie. Dit sal nogals snaaks wees as mens dit in stand-up comedy verwerk. Ek hoor al daai Alfred Adriaan ou sê "Nêtalie, you know mos... " Ek dink egter nie Nataniel sal hierdie verhaaltjie vertel nie... Dis te over-sharing. Bietjie kommin. Hy hou nie eers van crocs nie, so die skoen sal hom nie pas nie.
So hier gaan ons ...
'n Nuwe spelling in beide Afrikaans én Engels is gister gebore. Want mens wil nie vloek nie, maar soms wil jy die punt stérk maak- sterker as wat byvoeglike naamwoorde mee kan help.
Maar voor ons daar kom...
Lank, lank gelede, toe my jongste oom aan my ma se kant 60 geword het en die hele familie aan daardie kant bymekaargekom het, het ek besef ek kom uit 'n groot familie uit. Nie getalle nie, al is daar heelwat van ons. Ook nie lengte soos my skoonsuster se mense wat almal vertikaal geseend is nie. Nee, ons klomp is lateraal begaafd. Heavenly minded en earthly SÓ good. Goeie mense. Goed geanker. Gee swaartekrag genoeg vatplek.
Ek het dit vir Bruce genoem, wat een of ander waarheid kwytgeraak het wat my knorrig gelaat het, en almal het aanbeweeg.
(Jammer familie, no offense. Lees maar aan.)
Ek het nog altyd taamlik gereeld geoefen. En ek kon taamlik enigiets eet, en die twee gewoontes het mekaar nog altyd redelik effektief uitgekanselleer. Met die jare het die eerste aktiwiteit effens afgeneem en die tweede roetine toegeneem. Dit het 'n effense probleem gekweek, maar met sporadiese intervensie is die situasie onder relatiewe beheer gehou.
Wel, tyd vir 'n curve ball. Dit is immers die jaar van oorlog in die midde-Ooste.
Ek hou van werk. Nie simpel goed soos skottelgoed en vloere was en afstof en karwas nie. Bruce het vinnig besef ek dink nie huis skoonmaak is die 10de Vrug van die Gees nie. Ek doen dit, wanneer dit gedoen moet word. But it does NOT excite me.
Nee, ek hou van wérk- uitdagings, probleme met sisteme... voorleggings met ppts waar jy met tricks soortgelyk aan 'n handstaan en 'n split die 5 dae van 18 ure agter die rekenaar opsom in 'n 30 minute, jaw-dropping voorlegging met nét die regte hoeveelheid humor om die eentonigheid van vereenvoudigde feite en statistieke verteerbaar te maak sodat almal die bottom line kan verstaan. Werk wat jou noop om AL jou torre in een ry staan te maak. Werk wat die hiperfokus van die ADHD waarmee ek geseën is laat inskop. Ek bedoel regtig geseën, nie gecurse nie - ADHD is soos 'n wilde, fenomenale, blinkswart hings wanneer jy verstaan hoe om hom op te saal en hard te ry. En as jy nie weet nie, dan slinger hy jou in die muur vas en kry jy vir dáe niks gedoen nie. En dan kom lek die swart hond jou tone. Maar dis 'n ander topic.
So, gepaardgaande met die werkservaring in dié wêrelddeel het ek heerlike klein behuising. Springcleaning én wasgoedwas gebeur in maksimum 2 ure. Bargain.
En saam met die skoolwerk kom baie, baie, baie heerlike navorsingswaardige projekte wat my verswelg in die wêreld in my kop, geanker op my alie agter die rekenaar. Ek LOVE dit.
Maar dis sit-werk. Sien waarnatoe ons oppad is?
Nou, ek het nou al genoeg verwysings gemaak na ons atmosferiese omstandighede hier, en dit beïnvloed regtig jou hele wese. Byvoorbeeld, gister het ek kortstondig drome gehad het van met 'n fiets begin skooltoe ry en het klaar bekostigbare wiele en 'n helmet op Amazon gekies. Toe ek gaan koffie maak sien ek die swartsak en stap oor die pad om dit uit te gooi. Buite vir 90 sekondes neem dit miskien 3 minute... Gesondheidsrisiko geïdentifiseer. Fietsdroom aan skerwe, lê en smelt op die teer. Selfs die swart hings se hoewe brand.
Ek dwaal af. Som gou op... groot gene, hou van stimulerende werk, dis te warm, oefen te min...
Nou, met die deurmekaar HR situasie van die laaste maand haal ek eergister 'n wit katoenbloesie uit 'n boks uit (want my kas is verkoop) om reg te maak. Skouernaat of iets te stik. Ek pas dit aan. Dit sit styf. Ek onthou ek het dit in direkte son gehang om vinnig droog te word en is vies vir myself want hierdie son krimp alles. Ek weet dit mos. Laat gaan dit. Trek weer tights en 'n lang Tshirt aan.
Gister het ek dieselfde probleem met 'n ander rok. Die groter probleem is dat polyester nie krimp in die son nie... maar ek is gefokus. Die rekenaar is lankal aan, en ek is oppad skooltoe sodat ek ongestoord die curriculum maps kan klaarmaak vir 'n been van my vak wat ek nog nooit gegee het nie. Ek verdrink my die res van die dag in die wêreld van IB Design Technology en BTech Engineering tot selfs my hande kramp van die muis. Die swart hings gallop deur valleie van idees en oplossings en kreatiewe, strategiese denke en probleemoplossing en aanbiedingsmetodes en selfs die lesplanne is lekker. Ek gryp koffie en beskuit wanneer ek honger word. Dit was 'n goeie dag.
Oppad uit gee Christie vir my die skaal wat ek 3 weke gelede vir Wendy geleen het terug in my groen Protea-of-the-Valley lapsak. Ek sê dankie. Gaan huistoe. Gooi die skaal op die bed. Werk verder. Talabat bring later vir my 'n sappige schawarma. Bel vir Bruce. Werk verder.
En iewers 'n rukkie voor slaaptyd haal ek die skaal uit, sit dit terug op sy plek en gooi die sak in die was. Ek wonder of die batterye moet vervang word en klim op. Fout van die jaar.
Ek klim af en gaan haal my bril en klim weer op.
Ek trek my skoene uit en gaan piepie en blaas al my asem uit en klim weer op.
Dieselfde.
Ek oorweeg dit om die skaal te skop maar onthou van my groottoon wat nog seer is van die keer toe ek van my mini-treadmill af geval het tydens die oorlog, en die ironie ontgaan my nie.
Ek klim verslae af. My kop sê kort woordjies wat met F begin. My wese hou begrafnis want my metabolisme is amptelik dood verklaar. Die doodsondersoek sal verseker "private summers" as bydraende faktor insluit. Die swart hond troos my nie. Dié sit en skreeu soos hy lag. Hy sal my later probeer lek.
Ek kan gewoonlik taamlik gou die humor in meeste situasies sien. Die een is nie snaaks nie. Ek is wel steeds dankbaar - al is my klere steeds te kleurvol vir die nuwe skool het dit ten minste nie gekrimp nie. Ek is net vet. Van te veel en te lekker eet en te min oefen. Van uttapams en biryanis en upma en sev puri en schawarmas en karak chai.
Ek is nie siek nie, niks is gebreek nie, daar is 'n oplossing. Die toestand is super maklik diagnoseerbaar, al kan die dokter jou nie amptelik daarvoor afboek nie.
NET PLEIN VET. Blinkvet. En dis my eie, eie skuld.
En hier word die nuwe spelreël vir die AWS gebore: Wanneer jy die kragwoord F.. as sterk beklemtoning wil gebruik maar nie die woord wil sê nie, kan die letter F as voorvoegsel gebruik word. Indien die woord met v begin, word dit vervang met F...
Van vandag af eet ek appels en drink flou, swart tee.
Want ek is nou amptelik Fet. Fobese.
FLOU TEE EN APPELS. BLAARSLAAI VIR POEDING.
Kan regtig nie onthou waar ek hierdie oulike quote gesien het nie.
Ek het dit gaan soek sodat ek die nodige krediet kan gee, maar kon dit nie weer kry nie.
