another language   
“If we find ourselves with a desire that nothing in this world can satisfy, the most probable explanation is that we were made for another world.”
― C.S. Lewis

11 Augustus 2026

Hawermoet of Oats? Die sout van die aarde...

Ek laat gereeld my bloed toets hier – want dit is ingesluit in ‘n 50 dirham konsultasie en opvolg. Mens moet maar weet wat is jou cholesterol en suiker, sodat jy ingelig onverantwoordelik kan wees. Gister gaan sien ek weer vir dokter Iqbal van Sudan op die tweede vloer, en sy gee vir my die plakkertjies om vir die laboratory op die eerste vloer te neem.


“Fàstingk? Fàstingk?” vra die Fillipynse dametjie met die baaaaaaaaaie oorbelle agter die baie lang wit toonbank?
“No,” sê ek. “Verseker nie,” dink ek. Na skool het ek ‘n heerlike, gesonde, groot tuna slaai geëet. Ek voel nog nie skuldig oor die sjokolade wat ek later gaan verslind nie. Ek het immers my dokter ingelig dat ek verlede week begin oefen het.
“You come back tomorrow morning 8 o’clock. You must fàstingk.”

So gisteraand stuur ek vir HR ‘n email dat ek vanoggend bietjie later gaan inkom en net na 8 meld ek honger aan vir die naald.

En na ek 9-uur almal hier by die skool gegroet het en my goed neergesit het, voel ek super voorbereid toe ek die halwe pak ‘rolled oats’ gryp en trappe op die ‘food tech’ klas betree. Ons klasse het ‘access control’, maar omdat dit ook deel is van die DT afdeling het ek toegang. Die ‘katjienk’ van die oopmaakmagneet weergalm nog, toe is die kastrol al uit en die induksie plaat aan. Terwyl die oats kook soek ek sout. Dit is die FT klas. Hier moet sout wees. Maar nee. Daar is masala en gedroogte mint en ghee en versiersuiker en dadelstroop en nog versiersuiker en baie, baie spices… maar nie sout nie. Ek is deur elke klas en deur elke laai. Niks sout nie.

My oats is klaar. Ek lek die lepel af en ril net daar dit smaak nie soos oats nie. Ek dink dit is hoe HAWERMOUT smaak. Veral die ‘mout’ deel.

Bakkie in die hand sit ek af na die kombuisie op die eerste vloer. Niks. Die HOD kantoor – al die laaie en kaste – niks.

Koponderstebo stap ek met my bakkie hawermoet deur die leë gange terug na my klas toe. Die  potjie sout wat ek daar gehou het staan nou in my kombuis.

Ek probeer dat die hawermoet nie aan my tong moet raak nie en eet dit baie vinning met groot lepelsvol. Dis nie lekker nie maar my gewete oortuig my ek is dankbaar, want ek het kos om te eet. Ek is dankbaar. Ek het darem melk gebring om in my koffie te gooi. So ek is ryk. Dankbaar. Nie honger nie. Maar ek dink ek dra van nou af klein sakkies sout in my handsak saam, want al is ek nie honger nie is die sonder-sout hawermoet na-smaak maar naar…

En net daar slát dit my: die sout van die aarde. (Ek google. Ken mos die woorde maar nie die adresse nie.)
Mt 5:13. JULLE is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word? Dit deug nêrens meer voor as om buite gegooi en deur die mense vertrap te word nie.
As ons nie die sout van die aarde is nie, dan is die lewe maar hawermout vir almal om ons… En hoe laf is ek nie meeste van die tyd nie? Die ‘conviction’ is diep.

Mag ons die sout van die aarde wees. Mag ons ‘flavour’ meer spreek as ons ‘labels’ en ‘looks’.



Mail
Instagram