“If we find ourselves with a desire that nothing in this world can satisfy, the most probable explanation is that we were made for another world.”
― C.S. Lewis
12 Maart 2026
Die dag wat ek hier geland het, sal ek nooit vergeet nie. Die hitte, my twee groot tasse, handbagasie tassie, laptop sak oor die een skouer, slaap apnea masjiensak oor die ander skouer en handsak waarin alles wat te swaar is vir die ander tasse sorgvuldig soos 'n tetris game gemaak-pas is. Kyk, jy het 23kg per tas wat ingecheck word - net 2 tasse, die laptop sak en mediese goed kan jy apart vat, handbagasie tassie is 7kg, en die handsak weeg hulle nie. Dit moet net klein genoeg wees om tussen jou voete onder die sitplek voor jou te pas. En daardie handsak dra jy soos Rambo asof hy niks weeg nie, en maak of jy nie nóg 20kg daarin ook het nie. Jy tel hom met jou pinkie op as dit moet, net dat niemand moet agterkom hoe swaar dit is nie.
Jy dra jou klere wat die swaarste weeg op die vliegtuig en loop swetende met 3 truie aan tot jy dit verlig kan afstroop wanneer jy alles deur die scanners en kameras en belde en skale 'gesmokkel' het. En sukkel jou flou met alles wanneer jy op Doha in Qatar moet ver stap en oorklim.
En toe ek uiteindelik op Abu Dhabi afklim, stoksielalleen met die hele pakkasie wat lyk of dit eerder met ou toue agterop 'n skewe donkiewa gestapel kan word, sien ek die Indiër met 'n wit A4 papier met my naam op.
Ek vang nie sy naam nie, en hy praat nie baie nie, want ons verstaan mekaar nie. Ek wil gesels. Hy verstaan nie. Nou weet ek dit was omdat my sinne te vinnig en te lank was. Die betekenis-connection nog verlore. Lost in translation.
Nou is ons vriende en terg ek hom gereeld dat die enigste woorde wat hy met my gepraat het was toe ons verby twee ikoniese geboue gery het en hy so daarnatoe gewys het met die woorde "pineapple buildings, pineapple buildings". Toe Bruce en Hugo Desember hier was kon hulle vir Santhosh ontmoet toe ons saam met vriendin Elsie by Talal ('n Noord-Indiese restaurant in Shabia - of soos ons dit soms noem, "Little India") gaan eet het.
Ek is net voor 6 die oggend by ons verblyf (op daardie stadium) afgelaai, en 7 uur weer opgelaai vir dag 1 by die skool.
My foon is obviously op roaming gestel, want ek moet kan kontak hou met SA. Gewone oproepe wou nie deurgaan nie. Kon nie 'whatsapp call' nie want het nog nie internet gehad nie.
Kon nie van die skool af bel nie want ons is eers die volgende dag op die skool se internet gesit. Ons het darem so driekwart deur die dag ons "device" gekry (wat mens jou skoollaptop hier noem - jou "device" 🤣🤦🏼♀️). Saam met dit jou onderneming dat jy dit nie vir persoonlike doeleindes sal gebruik nie geteken, en jou skool e-pos adres: thana.hancock@diyafahinternationalschool.com. For real. Amper 2 whatsapplyntjies lank. En ek kon darem vir Bruce een lyn epos: Ek is hier. Ek is ok.
Later die dag het ek die heel eerste keer in my lewe 'n grys taxi gestop (hand in die lug soos in die movies) en na Al Wahda Mall toe gery, die naam vreemd in my mond. Daar kon mens verniet internet kry. En ek moes 'n paar goedjies koop.
Na eindelose gesukkel saam met Ethiopiese Abnet (Wiskunde kollega wat toe ook nuut was maar lankal al weer weg is) connect ons met die mall se internet. Bel. Whatsapp call. En al wat ek hoor is Bruce se halwe stem wat so kgkkgkk kggkkk probeer praat. En ons probeer en probeer en probeer. Geen sukses nie.
Ek en Abnet, wat ook sy familie probeer kontak, is later goed moedeloos terug C57 in Al Nahyan toe. En seker so 7uur die aand is my gô uit en ek loop soek die klein Indiese vroutjie van ongeveer my ouderdom wat ek die oggend vlugtig op die bus ontmoet het op die 4de vloer. Toe sy die deur oopmaak ruik ek nie eers die wierook of die kerrie nie. Ek tjank net. Tjànk. Sy sê later, toe ons al goeie vriende is, sy het eers haar gat af geskrik en toe amper saam gehuil. En geduldig verduidelik sy my toe van 'Whatsapp calls' en sulke goed wat hier geblok is. Van VPNs en Botim en Comera apps wat nie geblok is nie en laat my van haar internet af met 'n VPN bel. En ek en Bruce is weer connected.
Queenie. Elke keer as sy my gesien het het sy gevra "Have you eaten?" Sy is ook al terug Indië toe.
Dit was 18 Augustus 2023.
Dit is vandag surreal. Het vanoggend wakker geword met moerse knalle. Mure en vensters wat bewe. Ek beweeg nie eers meer my kop nie. Het aangeslaap. Later weer 3. Ek slaap. Later weer 'n paar. Toe maar opgestaan en koffie gemaak. Die hele wêreld is deesdae op 'n ander manier connected. Die connection nie altyd so positief of stil soos op Botim bel nie...
En vir die res van die dag is dit tjoepstil. Absoluut stil. Ek hoor al heelmiddag 'n kind of 2 soet iewers buite in die son met 'n tennisbal speel. Ek hoor my 7-jarige, Malaysiese kuiergas Ahenav se stemmetjie. Almal is so bly dit het gereën: Daar is gemiddeld 47 druppels sigbaar in die stof op elke kar. 'n Duif of twee sing. Venster oop. Aircon af.
Ek het die podcasts met die duisende teorië en opinies ook afgesit.
Ek dink almal het ophou malls toe gaan, want elke 5 minute kry ek smse en whatsapps van winkels wat grooooot uitverkopings aankondig.
En ek lê en dink aan die verskil tussen connectedness en connection. En hoe dit prakties uitspeel in waar ek myself nou bevind:
In connection with everyone. Ek weet nou hoe om te bel. Het vinnige internet by my kamer-huis en op my foon. Oog en oor op wat by die huis gebeur, want Botim en kameras help. Social media en lukrake kontak hou my op hoogte van amper 3 jaar gelede se leefwêreld. Bestuur nou al soos 'n wafferse slow and safe Miss Daisy driver - al is al die motors om my fast and furious.
Connection, yes, but still connected?
Reminiscence highlighted by the current inability to travel, maybe? By the frantics and fears around me?
Wie weet.
Maar as ek eendag dalk weer Engels gee sal dit beslis 'n opstelonderwerp wees: Connected connections...