21 Julie 2026
Die morestond het goud in die mond.
Dis net na 5 in die oggend. Ek google gou om die betekenis te check. Want dis vroeg in die oggend...
Vanoggend is Google Nederlands. "Dit is 'n bekende gesegde! Die juiste vorm is "de morgenstond heeft goud in de mond" in Nederlands en "die môrestond het goud in die mond" in Afrikaans. Dit betekent dat je heel wat meer gedaan krijgt en succesvoller bent wanneer je de dag vroeg begint".
Die goud in my morestond is woorde. Beelde. Metafore. Mooi sinne, wat ek soms neerskryf om te onthou, soos die vinnige voorsketsies wat kunstenaars op servette in restaurante maak. Of die melodielyne wat komponiste aan die binnekant van hulle arms of enige ander plek sal noteer, want jy weet vir 'n feit jy gaan dit vergeet. Vanoggend gryp ek my foon en maak vir myself 'n voicenote...
Ek kan nog nie behoorlik uit my oë uit sien nie en het nog nie my leesbril op nie en korrel skeef-skeef na die naam - TH. Dis my eie nommer. Ek record vir myself deur my mondskerm (want ek kners glo in my slaap, so my morestond begin elke oggend met die knersplaat in die mond) 'n boodskap, en beplan om weer vir 'n rukkie te sluimer. Die foon maak 'ting' net na ek gestuur het...
Ugh... waar het daardie boodskap nou deurgegaan? Het ek die voicenote op die groepie gestuur? Ek is nou WAKKER, gryp my bril, en kan nog steeds nie behoorlik sien nie... Ek delete sommer die message... en sien toe dit het te-ting want ek het dit mos vir myself gestuur. Maar nou is ek wakker en ek weet ek gaan vergeet en het klaar die voicenote delete en dis te vroeg om die hele storie op die foon te moet tik want my oë is nie gefokus nie, so ek gryp maar die laptop... Want die stukkie goud-in-die-mond is spesiaal.
Lank, lank, lank gelede net nadat ek hard "op 'n nat teel gegly het" (soos 'n jong meisie hier haar fout-ervarings van die verlede beskryf het- mooi, né?) het ek gaan hout- en metaalwerk swot. Ek het nie met 'n hamer in die hand grootgeword nie, en tegniese tekeninge was moeilik - dit was 'n harde 4 jaar. Maar in daardie 4 jaar van elke dag met hout en weerbarstige metaal werk, het ek vir Jesus ontmoet. Die man wat met hout moes worstel sonder 'powered tools'. Die fisiese krag wat hy sou moes hê leer ken, want planke is regtig swaar. En hout is regtig hard. Onder die vlerk van Hester Veldsman het ek terselfdertyd naweke en vakansies geleer om swaarkry te sien en te probeer aanspreek. Leer bid, leer leer, leer op water loop. En alles wat my ouers my geleer het, het lewe gekry.
Ek dink ek het my dosente MAL gemaak. Ek weet ek het. Oorlede Alec van Dyk het my menige male in die musieklokale gaan soek, of sommer gebel, of in die biblioteek kom soek, want ek was alewig besig met iets anders wanneer ek in die klas moes wees. Die klasbank-queen. Dit was so erg, die bibliotekaresses het my met die instapslag gevra of ek nie klas het nie. Die arme mense. Charles Kitching het altyd in sy diepe stem vertel hoe Alec by sy kantoor ingestorm het met die woorde "Waar is daai f...k.n Thana?!" Want ek was in Huis Murray waar Charles en Mariaan huisouers was, maar meer as dit - VRIENDE, mentors. (Hoe mis ek hulle nou...) So in Alec se mening moes Charles mos weet waar ek is. 😂
Maar die genade is groot. Hulle het 4 jaar oorleef, en ek het, DEUR DIESELFDE GENADE, 'n nie-te-bad-nie onderwyser geword wat nooit laat is nie, en in elke klas is, selfs wanneer ek siek is.
Die storie dwaal af.
Met die loop van die 4 jaar het ek vir Jesus ontmoet en van afgeskeerde hare met honderde 'piercings' en donkerpers naels versag na lang hare, minder juwele en voete wat my na keyboards in kamerkerke in Mbekweni laat loop het.
En so loop ons al vir jare saam deur die morestond. Koue oggende, warm dae, hartseer aande, geluk, ongeluk, regverdig en onregverdig. En soms hol ek vooruit en kom Hy rustig agterna. Soms gaan sit ek weerbarstig met my gat op die dorings in die pad, en buig Hy af en tel my op. En soms neuk ek net voort, en dan soek ek Hom. Suffer ek van verlange na Sy vrede, is die diepte van die smagting net so intens en groot dat ek soms twyfel - ken ek Hom regtig?
Ps 42:7 sê "Deep calls unto deep at the noise of Your waterfalls;
All Your waves and billows have gone over me."
Sy genade is groot, alles-oorkoepelend, allesverswelgend. Maar wanneer ek "deep calls unto deep" hoor voel dit of daar 'n "deep" diep in my is wat naarstigtelik roep na 'n ander "deep" - verlangend, soekend - en net Sy 'deep' kan die vakuum vul.
B.t.w. ek moes die vers google- Ek onthou net 'deep unto deep'. Wanneer ek groot is sal ek ook soos goeie Christene wat podcasts maak en boeke skryf kan onthou wat staan waar.
Soos wat ek al hier geskryf het is hierdie land 'n plek waar jy jou Heiland weer leer ken. Anders leer ken. (En soms wil jy jou Heiland op mense soos die HR loslaat, "but vengence belongs to the Lord..."🤭. En ek moet myself elke dag herinner HR is ook siele en Hy wil hulle ook van ewige verderf red. En dan repent ek en probeer keer myself om nie vergeldende gedagtes te koester nie.) Maar jy leer die Here net op 'n ander manier ken hier tussen die Hindus en baie, baie, baie Moslems, en baie, baie, baie ander gelowe, manierismes en gebruike.
En die afgelope tyd het ek al baie met Bruce en my 4 maters hier gedeel dat ek voel ek ken Jesus, die Vader en die Heilige Gees soos wat ek 'n filmster en musiek ken. Soos wat Bruce vir U2 ken. Soos wat mens iemand in die dorp ken - vir wie jy die vrymoedigheid het om te nooi vir koffie en selfs 'n guns te vra, maar voor wie jy steeds jou maag intrek, seker maak alles is toe, en hoop daar is niks tussen jou tande nie. Met wie jy nie sal gesels in jou pajamas met jou mondskerm en slaap-apneemasjien en deurmekaar hare en stink asem en ongefokuste oë nie.
Ek wil HOM KEN, en besef ek spandeer te min tyd in die Woord. Ek wil HOM so goed ken dat ek antwoorde het vir al die vrae en argumente van siele wat hom nie ken nie. En ek voel ek ken Hom nie. Ek voel ek weet van Hom. Maar ek KEN Hom nie, of doen ek? Ken ek regtig die MAN, Jesus, wat hier op aarde geloop het, met hout gewerk het, ook moes eet, vernederend mens wees? Want ek sien dit nie in my spieël nie! Ek raak de moer in vir HR en sukkel met geduld en praat lelik en VREET te veel en sukkel met selfbeheersing en die lys is LANK.
En vanoggend word ek wakker en groet oudergewoonte: Môre, Here Jesus. Dankie vir die dag. Dankie vir nog 'n kans. Here, ken ek U? Help my vandag om te kom by "Nader my God, by U, nog naderby..."
En die morestond het vanoggend hout in die mond. Hy vat my terug houtwerk klas toe: My nuwe skool. Ek gee houtwerk. Ek is gespanne daaroor want ek het dit geswot maar nog nie onderrig nie. Ek is versigtig vir die veiligheidsaspek van vir jong kinders met powertools te laat werk in hierdie land wat hulle wil flouval wanneer hulle hulle vingers met 'n speld steek en 'n druppel bloed sien. Die streng veiligheidsreels in hierdie land, en ek sien vanoggend net na die oggendgroet, nog met my mondskerm en slaapmasjien en toe oë DIE HOUTWERKKLAS; ek hoor die Carpenter:
"Ons gaan terug houtwerkklas toe. Ek hoor jou."
Copied sticker from "Redbubble" merchant on Pinterest
